Persverklaring

 

PERSVERKLARING Feb. 2007

                                                                                               21 Februarie 2007. 

TABOK het kennis geneem van die onlangse gebeure met Ermelo Hoërskool se aksies in die Hooggeregshof, Derdepoort Laerskool waar die Beheerliggaam en hoof die skool na parallelmedium verander het sonder dat die ouers tydens die proses geken was, F H Odendaal Hoërskool waar die senior personeel openlik aksies geneem het om die nuwe Beheerliggaam te oorreed om die skool na parallelmedium oor te skakel. By laasgenoemde twee gevalle het die Tabok Derdepoort Ouerkomitee die proses begin teenstaan en word ‘n dringende ouermassavergadering binnekort gereël. In die F H Odendaal Hoërskool geval is amptelike klagtes by die Onderwysdepartement gelê en regslui aangestel om hierdie sake verder te voer. 

Op Dinsdag 20/02/07 het die Limpopo Onderwysdepartement die Beheerliggame van die Doringfontein Laerskool en Mphe Mphe Laerskool ontbind in ‘n geforseerde stap van amalgamasie wat reeds die afgelope twee jaar teengestaan word. In hierdie geval het TABOK ‘n senior regspan gefasiliteer om die Beheerliggaam en Tabok Doringfontein Ouerkomitee te verteenwoordig in ‘n dringend regsgeding wat so spoedig moontlike aanhangig gemaak sal word. Die opdrag is verder dat hierdie geding noodwendig die bepalings van die Grondwet van die RSA ten opsigte van verskeie bepalings moet toets. Vir hierdie doel is die regspan toegang gegee tot kundiges en ander regshulp wat hierdie proses sinvol en in sy volle omvang kan saamvoeg. 

Tabok word tans uit sewe van die nege provinsies genader vir dringende regsadvies en moontlike hulp in nog meer gevalle wat kop uitsteek. 

NAVORSINGSRESULTATE

Resultate van ‘n omvattende navorsing, vir TABOK gedurende 2006 gedoen, het getoon dat skole wat na parallelmedium oorskakel, wel deur ‘n geforseerde proses gaan waar die oorwig van getalle die proses deur die dubbelmediumstadium na Engels enkelmedium voer binne ‘n redelike tyd. Dit bevestig ook dat die bestaande Etos van die skool onomwonde verander. Die navorsing het ook getoon dat daar reeds ‘n tekort van 50% Afrikaanse skole in sowat ses provinsies, proporsioneel tot die getalle van Afrikaanse leerders in daardie provinsies, is. Dit is vanweë hierdie tendense dat die proses stelselmatig alle Afrikaanse skole transformeer na Engelsmedium. Die genoemde navorsingstuk word in sy volle omvang aangeheg. Dit is verder bewys dat dit slegs voorheen wit model C Afrikaanse skole is wat landswyd aan hierdie druk blootgestel word. 

Hierdie navorsing, die optrede van die Onderwysdepartement se amptenare en in besonder die Minister se toetrede tot Ermelo Hoërskool se geval, toon ‘n onomwonde

kleur van etniese diskriminasie teen die Etos van die Afrikaner se grondwetlike regte om sy eie taal, kultuur en godsdiens binne eie onderwys- sowel as ander kulturele- en godsdienstige instellings te behou. Hierdie regte is verskans in die RSA Grondwet, sowel as die internasionale reg onder die bepaalde definisie van die regte van etnies, kulturele, taal en godsdienstige minderheidsgroepe, waarvan die Afrikaner by uitstek een is. Dit is nie net taalbeleid en magte van Beheerliggame wat ter sprake is nie, maar die totale omvang van al die genoemde regte.  

FINANSIERING

Vir die doel van hierdie omvattende regsgeding is ‘n spesiale bankrekening geopen waarin enige finansiële hulp om die regskostes te dek, direk gedeponeer kan word deur enige persoon, instansie en donateurs. Die besonderhede is: 

        Eerste Nasionale Bank,

Centuriontak, Takkode 261 550,

Rekening naam: TABOK,

Rekening nommer 62073600548.
 

Sien  Regshulpfonds

 

TABOK WERKGEWERSORGANISASIE 

Die afgelope twee jaar het TABOK amptelik ‘n Werkgewersorganisasie, tewete TABOK WERKGEWERSORGANISASIE, in terme van die arbeids wetgewing gestig. Die TWO sal vanaf 1 April 2007 as amptelike liggaam vir Afrikaanse skole se Beheerliggame dien en ook voorsiening maak vir diens op die onderwysterrein. Hierdie liggaam se kantore word tans ingeruim en geskikte personeel word reeds gewerf. Sien www.tabokwo.co.za

TABOK OUERKOMITEES. 

Tabok het reeds landswyd begin om die ongeveer 3,000 Afrikanergemeenskappe te organiseer in amptelik ouerkomitees met die doel dat sodanige gemeenskappe hulle regte kan opeis en sinvol van regsadvies en -hulp bedien kan word tydens enige stappe, soos in Tabok Derdepoort Ouerkomitee se geval. Daar word ook gewerk aan ‘n stelsel om Afrikanerouers te mobiliseer en dat hierdie ouerkomitees hul eie trustrekening open om voorts skoolgelde daarin te betaal. Die ouerkomitees kan dan, slegs proporsioneel, gelde aan die Beheerliggame, na gelang van Afrikaanse leerdergetalle, oorbetaal sodat die res van die rekeninge, proporsioneel tot anderstaliges, deur hulle ouers of die Onderwysdepartement betaal kan word. 

TABOK ONDERWYS TRUST. 

Tabok is ook reeds ver gevorder met die stigting van die TABOK ONDERWYS TRUST wat hom ten doel stel om; 

          2,100 Laerskole,

700 Hoërskole,

2 Universiteite en

1 Onderwysopleidingsinstelling 

terug te bekom uit die bestaande strukture in die RSA. Dit is proporsioneel die getal, uit bestaande instellings, waarop die Afrikaner geregtig is in terme van die proporsionele beginsel, wat ooreenstem met die van die samestelling van die parlement en wat vir die totaal Afrikanerkinders benodig word. Hierdie beginsel sal ook binnekort in die Konstitusionele hof getoets moet word, indien nodig. 

Voorts sal die TABOK ONDERWYS TRUST hom dringend beywer vir die herkanalisering van alle huidige en nuwe beurse, donasies, skenkings en erflatings, deur Afrikaners, weg van die bestaande universiteite na hierdie trust ten einde die voorgenome nuwe instellings te befonds as privaat onderwysinstellings vir die behoud van die Afrikaner se Etos ten opsigte van sy kultuur, taal en godsdiens. Die Raad van Trustees sal aangekondig word sodra alle amptelike werksaamhede afgehandel en die trustees hulle aanstellings aanvaar het.

 

 

..................................................

Louis Smuts
Voorsitter TABOK

____________________________________________________________

  PERSVERKLARING

Die afgelope gebeure oor onderwys het nie net die tafel gedek vir onsteltenis en opgekropte woede in Afrikanergeldere nie, maar het ook bepaalde tendense amptelik bevestig.

 Die feit dat Minister Pandor tien dae gelede aan FEDSAS bevestig het dat beheerliggame se magte eerder uitgebrei sal word  en dat sy daarna blatant beoogde maatreëls aankondig om juis die teendeel te doen, bevestig die totale ongeloofwaardigheid van die huidige Kabinet se optrede wanneer dit Afrikanerbelange in die onderwys, sport en arbeidsterreine raak. 

Haar huidige gebroke ondernemings bevestig Mnr. Mbeki se leë beloftes van die afgelope 5-7 jaar in soortgelyke verband, maar meer nog, dit bevestig doelbewuste optrede per wetgewing wat juis die teendeel afforseer. 

Die optrede van Afrikaanssprekende groepe uit die Bruin-, Swart- en Indiërgeledere toon duidelik ‘n ondersteunende rol tot bogenoemde gebeure. 

  1. Die aanstelling van onderwysers

Hierdie voorgestelde wysiging druis in teen die gees en aanhef van die Suid-Afrikaanse Skolewet. In die aanhef word onder meer aangedui dat die verskeidenheid van tale en kulture bevorder sal word, en dat die regte van alle leerders, ouers en opvoeders gehandhaaf sal word. Alle leerders, ouers en opvoeders moet verantwoordelikheid vir die organisasie, beheer en finansiering van skole aanvaar, en dit in vennootskap met die staat bevorder. Die voorgestelde wysiging beperk regstreeks die regte van die leerders, ouers en opvoeders wat die beheerliggaam van ’n skool uitmaak en bedreig dié vennootskap.  

Die verant­woordelikheid vir die beheer van openbare skole ten opsigte van die aanstelling van onderwysers setel nou nie meer uitsluitlik in die beheerliggaam nie, maar word in ’n groot mate deur die burokrate oor­geneem. Dit wil voorkom of daar stelselmatig terugbeweeg word na ’n situasie waar die Departement van Onderwys die beheer van skole oorneem. Die proses word verder al hoe minder deelnemend-demokraties en al hoe meer magte word in die han­de van die burokrate geplaas. Die potensiële gevaar wat hierdie voor­gestelde wysiging inhou, is dat die uitwerking daarvan nie bestaanbaar met grondliggende bepalings van die Grondwet sal wees nie. Tans mag die aanstelling van opvoeders slegs op aanbeveling van die beheerliggaam gedoen word. Die rede daarvoor is voor die hand liggend: die beheerliggaam stel die skool se taal- en toelatingsbeleid vas en sal dus aan­­stellings gemaak wou hê ooreenkomstig daardie beleid. 

Die voorgestelde wysiging begrens die reg om ’n aanbeveling te maak en minimaliseer die beheerliggaam se deelname wat dan bloot geïgnoreer kan word. Hierdie blyk ’n voorbedagte skuif te wees om herontplooiing van onderwysers te vergemaklik en sowel die ETOS van spesifiek die AFRIKAANSE TAAL, KULTUUR en GODSDIENS WAARDES soos deur die Afrikaner in huidige Afrikaanse skole uitgeleef, by te kom en te onderwerp aan die invloed van ‘n getalle oorwig.  

Die voor­ge­stel­de wysiging sal die beheerliggaam se regte in terme van die huidige ar­ti­kel 6 van die Wet op die Indiensneming van Opvoeders, en artikel 20(1)(i) van die Suid-Afrikaanse Skolewet geweldig afwater en skep ruimte vir arbitrêre bu­ro­kra­tiese optrede. Dit sal uiteindelik in terme van artikel 29(2) van die Grond­wet in­breuk maak op die leerders se reg om onderrig te ontvang in die amp­telike taal van eie keuse, of te wel moedertaalonderrig.  

Die besluit om ’n aanstelling van ’n opvoeder in ’n openbare skool te maak, is ’n administratiewe optrede wat belanghebbendes se regte uiteraard nadelig kan raak. Dit is dus belangrik dat ’n aanstelling van ’n opvoeder in ’n open­ba­re skool, regmatig, redelik en prosedureel billik moet geskied. Ten einde re­de­likheid en prosedurele billikheid te verseker, moet die reëls van natuurlike ge­regtigheid en in die besonder die Audi alteram partem-beginsel (hoor die an­der kant aan) op alle vlakke van besluitneming toegepas word. Die voorgestelde wetswysiging sal dus neerkom op die verontagsaming van bogenoemde regte en sal dus indruis teen die beginsels van administratiewe geregtigheid en is on­bestaanbaar met die beginsels vervat in artikel 33 van die Grondwet en artikels 1 en 3 van die Wet op die Bevordering van Administra­tie­we Gereg­tigheid

Die voorgestelde wysiging kan dus nie deur bloot enkele wetswysigings gemaak word nie, maar sal deur wysigings van die Grondwet  voorafgegaan moet word.  Dit blyk dat Mnr. Mbeki se voor-verkiesing, tydens-verkiesing en na-verkiesingsbeloftes dat die ANC nie die Grondwet sal verander nie reeds as leë verkiesingsbeloftes hiermee by die agterdeur uit is. 

  1. Die kwytskelding van skoolgelde

Die  voorgestelde wysiging van 40% armste skole se kwytskelding van skoolgelde is prysenswaardig omdat daar werklike behoeftes bestaan. Dit sluit egter duidelik nie die nuwe agtergeblewe Afrikanergeledere in nie.  Trouens, dit is duidelik dat die arm leerders uit voorheen benadeelde gemeenskappe, wat na die laaste Afrikaanse skole stroom, geoormerk is om deur die Afrikanerouers gesubsidieer te word, ongeag die toestand wat hierdeur geskep word.  Hierdie hele proses loop tans uit op ’n doelbewuste stelsel waar die Afrikanerouer die finansiële melkkoei word en dit terwyl sy eie kind sal ly onder die vernietiging van die ETOS van die Afrikaanse taal, kultuur en Godsdienswaardes deur die oorwig van getalle. Boonop word hierdie proses gefinansier deur die ouer wat van al sy Grondwetlike magte gestroop word.  

Dit het dringend noodsaaklik geword dat die Afrikanerouer aandag moet gee aan die werklike bestaansreg van Artikel 21 skoolstatus met net ’n finansiële las en geen magte nie, asook die verskansing van betaling van skoolgeld op sodanige wyse dat Afrikanerkinders 100% wetlike waarde sal kry uit die skoolgelde wat die ouer betaal.   

Die Onderwysdepartement moet kennis neem dat die deursnee Afrikanerouer nie ’n verpligte finansiële melkkoei sonder magte sal word wat vir eersgenoemde se vernietigende onderwysbeleid sal help betaal nie.  Inteendeel, met die voorgestelde stappe moet die Onderwysdepartement hom klaarmaak om die finansiële verpligtinge van voorheen model C-skole binnekort in totaal oor te neem, daar hy besig is om die magte van beheerliggame in te kort. 

3.   Rol van ander Afrikaanssprekende groepe 

 Die nuwe rol wat Afrikaanssprekende ouers, leiers (op vele terreine soos sport en andere) uit die Bruin-, Swart- en Indiërgroepe inneem, het self ’n eie dimensie aangeneem.  Dit is juis  die Bruin- en Swart- Afrikaanssprekende ouers, leiers en onderwysamptenare wat ’n insiggewende rol speel in die hof sages van Laerskool Mikro en die Noord-Kaapse skole om die ETOS van ’n Afrikaanse taal, kultuur en Godsdienswaardes te omseil om sodoende hulle kinders in Afrikaanse skole in te dwing op ’n wyse wat geen goeie uitkoms bied nie en waar die behoud van die genoemde ETOS klaarblyklik geen rol speel nie.  Die onlangse uitlatings van Mnr. Brain Van Rooyen van SARVU dat hy hulp soek om van die Boere uit bogenoemde organisasie ontslae te raak, bevestig hierdie tendense.  Die werklike geroepenheid en verbinding tot die behoud van sodanige Afrikaanse ETOS onder hierdie groepe is ernstig onder verdenking en sal die Afrikaner moet besluit of hy alleen die uitdaging  aanvaar om as die werklike behoudende faktor, ter beskerming van hierdie ETOS,  die nodige aksies sal neem. 

  1. Nasionale Kongres

Vanweë die dimensie en potensiële uitkoms van wat werklik op die terrein van die behoud van die Afrikaanse taal, kultuur, Godsdienswaardes en gepaardgaande dissiplines gebeur, het TABOK besluit om sy eerste Nasionale kongres vanaf 28 – 30 Julie 2005, te wy aan spesifiek die behoeftes op onderwys- en sportgebied. 

Die Uwe 

I. L. Smuts

Voorsitter:  TABOK

 

 

AFRIKAANS ENKELMEDIUMSTATUS VAN HERCULES HOëRSKOOL

                                                                                                  27 Januarie 2005

 Na vele verwikkelinge sedert Oktober 2003 is dit nou amptelik toegegee deur die Onderwysdepartement dat Hercules Hoërskool Afrikaans enkelmedium is en dat sy status soos bepaal deur die beheerliggaam gehandhaaf sal word.

 Hierdie status was in gedrang nadat die Onderwysdepartement aan die begin van 2004 die beheerliggaam vriendelik verplig het om uit te help met 70 Engelssprekende leerders met bepaalde voorwaardes daaraan gekoppel. Gedurende September 2004 was daar verdere versoeke dat weer graad 8-leerders ingeneem moet word, wat sou beteken dat Hercules Hoërskool in beginsel  parallelmediumstatus sou verkry, teen die beleidsbepaling van die beheerliggaam.

 Die beheerliggaam het teen hierdie nuwe verwikkeling vasgeskop en met die hulp van TABOK ‘n proses begin waartydens die Onderwysdepartement uiteindelik ingestem het dat geen verdere Engelse leerders ingeneem sal word nie, behalwe dié wat reeds daar is.  Verder is ooreengekom dat die Onderwysdepartement sy verpligtinge ten opsigte van die kostes van die Engelse leerders sal nakom totdat hulle die skool na graad 12 verlaat, of indien hulle gedurende die jaarlikse inskrywingsproses verhuis na ‘n Engelse skool.

 Die beheerliggaam  het besluit dat hulle ‘n volledige verklaring sal uitreik sodra die ooreengekome dokumentasie tussen hulle en die Onderwysdepartement afgehandel is.

 TABOK gee hiermee die nodige erkenning aan die beheerliggaam van Hercules Hoërskool vir hulle sterk standpunt en vertrou dat dit as voorbeeld vir ander skole sal dien.  Die Onderwysamptenare word ook bedank vir hulle openlikheid en die feit dat hulle die regte van die beheerliggaam erken het.  Dit word ten seerste waardeer. Daar is nog hoop as ons mekaar in ernstige sake soos hierdie kan vind sonder om dit in die hof te beslis.

 Beheerliggame het die wetlike mag en bevoegdheid om self ‘n skool se taal- en toelatingsbeleid te bepaal.  Hierdie reg geld steeds nadat ‘n skool verkeerdelik en/of onregmatig deur die Onderwysdepartement na ‘n parallel- en/of Engels mediumskool gedwing was. Hierdie is ‘n tipiese voorbeeld waar so ‘n proses herstel kan word solank alle partye en ook in besonder die Engelse leerders se belange voorrang geniet.

 Dit word al duideliker dat daar waarskynlik etlike honderde, voorheen Afrikaans enkelmediumskole is wat op wederregtelike wyse deur onderwysamptenare en/of eensydiglik deur hoofde se verkeerde advies aan beheerliggame en/of eensydige optrede deur beheerliggaamvoorsitters en hoofde daartoe gelei het dat hierdie Afrikaanse skole parallelmedium en/of dubbelmedium geword het. Van oral word klagtes van ouers en beheerliggaamlede ontvang.

 Die huidige hofsake oral in die land, sowel as onlangse uitlatings deur regeringsamptenare en die Minister van Onderwys is ‘n duidelike bewys van hoe teen Afrikaanse gemeenskappe gediskrimineer word en dan in besonder die Afrikaner as die behoudende faktor se Grondwetlike regte in terme van Artikels 29 en 31 van die Grondwet verontagsaam en geminag word. 

 Statistieke wys onomwonde dat sodanige skole deur die oorwig van getalle uiteindelik Engelse skole word ten koste van Afrikaans.  Hierdie handelinge word ook landswyd net op Afrikaanse skole afgedwing.  Behalwe vir skending van die Grondwetlike regte van die Afrikaanse gemeenskappe het die saak ten opsigte van die addisionele kostes, wat nou tydens hierdie aksies op die Afrikaanse gemeenskap afgedwing is, ter sprake gekom.  TABOK het met ‘n proses begin om hierdie gevalle te identifiseer en om daardie skole te help om die proses te stop, om te keer en waar wetlik moontlik aanspreeklikheid ten opsigte van hierdie addisionele kostes te help bewys en om die Onderwysdepartement daarvoor aanspreeklik te hou.

 TABOK hanteer van hierdie aangeleenthede tydens ‘n gesamentlike inligtingsessie by Hercules Hoërskool op Donderdag 27 Januarie 2005 om 19:00

Geteken:            

L. Smuts: Voorsitter:  TABOK

 

Terug boontoe

Tuisblad

Medewerkers

 


Webmeester